National News
Winter Hotel nooi luisteraars in uit die koue met debuut-ep ‘Winter’
’n Vier-liedjie-verhaal oor nuwe liefde, intimiteit en die warmte wat twee mense in mekaar kan vind.
Winter Hotel se debuut-EP, “Winter”, verskyn Vrydag 2 Oktober 2026 op alle groot stromingsplatforms – die eerste hoofstuk van ’n groter musikale verhaal wat oor vier seisoene vertel sal word.
Winter Hotel bestaan uit Kirsten en Kyle Schlebusch van Droomsindroom en Bernice West. Dié projek het organies ontstaan uit hul samewerking op “Toelaat”, waarna Kirsten van die liedjies uit ’n groter konsep aan Bernice gespeel het.
“Die musiek het eintlik die groep geskep. Toe Bernice die liedjies hoor, het alles net sin gemaak,” sê Kirsten Schlebusch.
Die publiek se reaksie op die vraag of hulle ’n groep moet begin, was oorweldigend – en so is Winter Hotel gebore.
“Winter” is meer as net ’n EP. Dit is die begin van ’n vier-seisoene-konsep waarin elke vrystelling ’n nuwe hoofstuk in die ontwikkeling van ’n verhouding vertel.
“Winter gaan oor daardie warmte wat jy by iemand vind wanneer die wêreld buite koud voel,”
sê Bernice West. “Dit gaan oor knusheid, intimiteit en daardie gevoel dat jy uiteindelik iemand
gevind het by wie jy net jouself kan wees.”
Die vier liedjies volg die verhouding chronologies:
“Heuning” vang die soet, opwindende begin van nuwe liefde vas. “Koffiewinkel” kyk terug na die plekke en oomblikke waar verhoudings begin. “Flikker” gaan oor die vonk wat bly brand wanneer dinge moeiliker raak. “Veilig” ondersoek die oomblik wanneer ’n mens besef dat “huis” nie noodwendig ’n plek is nie, maar ’n persoon.
“Die vier liedjies is amper soos vier tonele uit dieselfde liefdesverhaal,” verduidelik Kyle Schlebusch. “Soos die seisoene verander, gaan die verhouding ook verander.”
Die EP is deur Peach van Pletzen vervaardig en doelbewus intiem en organies benader. Akoestiese elemente, rou vokale en moderne ritmes skep ’n klank wat nostalgies voel, maar steeds vars is.
“Ons wou hê dit moet voel asof jy baie naby aan die twee mense in die liedjies sit – amper asof jy na ’n gesprek luister,” sê Bernice.
Die kitaarpartye en teksture van Graaff vorm verder deel van Winter Hotel se kenmerkende
klank.
Die groep se hoop is dat “Winter” as ’n volledige ervaring geluister word.
“Ons wil hê mense moet die EP van voor tot agter luister. Maak ’n vuur, sit langs die persoon vir wie jy lief is en laat die vier liedjies hul storie vertel,” sê Kirsten.
Die konsep strek ook visueel verder as die musiek. Elke seisoen se oorspronklike kunswerk word deur Kyle Schlebusch met die hand geskilder, met temas uit die betrokke projek.
Die vier kunswerke sal uiteindelik saam ’n versameling vorm wat opgeveil sal word. “Die storie moet nie net gehoor word nie. Ons wil hê dit moet ook gesien en gevoel word,” sê
Kyle.
’n Amptelike musiekvideo vir “Flikker” verskyn Vrydagoggend op YouTube, terwyl ’n spesiale teater-albumvrystellingsvertoning voor die einde van die jaar beplan word.
En Winter Hotel beloof dat daar nog ’n verrassing voor die einde van die jaar kom. “Die volgende liedjie is dalk glad nie wat mense van ons verwag nie,” sê Bernice. Vir nou is die deure oop.
Welkom by Winter Hotel. Welkom by “Winter”.
Volg Winter Hotel
Instagram : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
