The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

Ruhan du Toit bring ’n kragtige gebed aan boere in Suid-Afrika

By Charlene Bekker09 Oct 2026👁️ 84 views
Ruhan du Toit bring ’n kragtige gebed aan boere in Suid-Afrika
Ruhan du Toit is terug met ’n liedjie wat nie net diep aan die hartsnare raak nie, maar ’n boodskap dra waarmee elke boer in Suid-Afrika kan vereenselwig – “Bring Die Reën”.
FOTOKREDIET: Khieran Trent

Dié kragtige enkelsnit is veel meer as net ’n liedjie. Dit is ’n gebed vir reën in ’n droogtegeteisterde Suid-Afrika en ’n musikale weerspieëling van die hoop en geloof waarmee boere elke dag voortgaan.

“Die titel sê eintlik presies waaroor dit gaan. Ons bid vir reën en ons boere bid vir reën,” vertel Ruhan.

“Bring Die Reën” is geskryf deur die liedjieskrywers Georic Lomas en Marco van Deventer. Volgens Ruhan is dit een van daardie liedjies wat ’n mens onmiddellik stil maak. “Die liedjie slaan half die wind uit jou seile as jy hom die eerste keer hoor,” sê hy.

Die liedjie vertel nie net van die droogte en die verlange na reën nie, maar ook van die mense agter die boerdery – die boer en sy vrou wat saam deur die onsekerheid, uitdagings en geloof stap.

“Dit gaan oor hoe belangrik die boer se vrou is en oor die omstandighede waarin hulle hulself bevind. Op die ou end is dit jy, jou vrou en jou geloof.”

Die emosie van “Bring Die Reën” word verder versterk deur ’n treffende musiekvideo waarin die verhaal van ’n boer en sy vrou ontvou.

Die bekende akteurs Hanna Grobler en Frank Rautenbach, wat onlangs in die kykNET-dramareeks Beter As Gister te sien was, vertolk die hoofrolle. Grobler speel die rol van die boervrou, terwyl Rautenbach die boer vertolk.

Die video volg die paartjie se reis terwyl die droogte en onsekerheid hul wêreld raak. Te midde van alles bly daar egter een ding oor: geloof.

Soos die boer bid en die liedjie sy emosionele klimaks bereik, begin die weer verander. Die wolke bou op, die spanning styg en uiteindelik breek die reën deur.

Dit word ’n kragtige beeld van hoop – die oomblik waarvoor so baie boere wag en waarvoor hulle bly bid. 

Met “Bring Die Reën” gee Ruhan du Toit stem aan ’n gebed wat ver buite die grense van ’n enkele plaas strek. Dit is ’n lied oor geloof wanneer die omstandighede jou toets, oor die mense wat saam met jou deur moeilike tye stap en oor die hoop dat die reën uiteindelik sal kom.

Volg Ruhan du Toit
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
#Artist#Musician#National News#Coleske Groep