The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

Ricus en Liza Nel deel vir die eerste keer ’n diep persoonlike liedjie

By Charlene Bekker16 Oct 2026👁️ 46 views
Ricus en Liza Nel deel vir die eerste keer ’n diep persoonlike liedjie
Die liedjie, wat deur Liza geskryf is, kom uit ’n baie persoonlike plek en raak aan die soort seer waarvoor ’n mens soms nie dadelik woorde het nie.
FOTOKREDIET: Hendri Fourie

Vir die eerste keer stel die man-en-vrou-sangpaar Ricus en Liza Nel ’n liedjie saam bekend. “Ek Het Nie” is veel meer as net ’n nuwe enkelsnit vir dié twee kunstenaars. Dit is ’n eerlike, emosionele verhaal oor liefde, verlies, verwerping en die genesing wat mettertyd kom.

Die liedjie, wat deur Liza geskryf is, kom uit ’n baie persoonlike plek en raak aan die soort seer waarvoor ’n mens soms nie dadelik woorde het nie. Dit vertel die verhaal van iemand wat jy liefgehad het en nodig gehad het, maar wat uiteindelik gekies het om van jou af weg te stap.

“Hierdie liedjie lê ons baie na aan die hart, nie net omdat ons dit saam sing nie, maar omdat dit uit ’n baie eerlike plek geskryf is. Dit is ’n plek wat eens op ’n tyd te seer was om oor te kon praat. Maar soos die tyd aanstap, kom daar genesing en vergifnis, en raak dit makliker om aan te gaan en daaroor te skryf,” vertel Ricus en Liza.

Hoewel die liedjie uit ’n persoonlike ervaring ontstaan het, is die boodskap universeel. Dit kan aanklank vind by enigiemand wat al die teleurstelling van ’n gebroke verhouding, ’n vriendskap wat verbrokkel het of selfs die verlies van ’n familielid se teenwoordigheid ervaar het.

“Vir elke mens gaan dit ’n ander betekenis hê. As jy al verwerp gevoel het en gehoop het dat dinge sou uitwerk, maar dit het nie heeltemal nie, sal jy by die liedjie kan aanklank vind,” verduidelik hulle.

Die musiekvideo vir “Ek Het Nie” sluit by die eerlikheid van die liedjie aan. Ricus en Liza het doelbewus besluit om die video eenvoudig te hou, sodat die emosie en die boodskap van die liedjie op die voorgrond kan bly.

Met hierdie eerste gesamentlike vrystelling hoop die twee om meer as net ’n mooi liedjie met luisteraars te deel. Hulle wil ook ’n ruimte skep waarin mense hul eie ervarings kan herken en dalk ’n stukkie troos en genesing kan vind.

“Ons hoop dat mense ’n stuk genesing sal vind wanneer hulle daarna luister.”

“Ek Het Nie” is ’n herinnering dat seer mettertyd sagter kan raak, dat vergifnis moontlik is en dat ’n mens uiteindelik weer vorentoe kan beweeg — selfs wanneer iemand wat jy graag in jou lewe wou hê, besluit het om nie te bly nie.

Volg Ricus Nel 
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier

Volg Liza Nel 
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
#Artist#Musicians#Coleske Groep#New Song