The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

ONS verf hul wêreld rooi met splinternuwe danssnit, ‘Heupe’

By Charlene Bekker31 Oct 2026👁️ 29 views
ONS verf hul wêreld rooi met splinternuwe danssnit, ‘Heupe’
FOTOKREDIET: Hendri Fourie

Blou, oranje, geel en nou rooi! ONS se musiekwêreld word al hoe meer deur kleure gekenmerk, en dié keer verf die Afrikaanse duo alles rooi met hul splinternuwe enkelsnit, “Heupe”. Met ’n vars dansklank, aansteeklike ritme en ’n speelse storie oor ’n meisie wat dalk nie veel sê nie, maar beslis met haar lyftaal praat, wys dié duo ’n nuwe kant van hul kenmerkende klank.

Volgens Marco van Deventer, wat een van die skrywers is op die liedjie, is “Heupe” ’n vars rigting vir ONS. “Ons het besluit om ’n nuwe klank te beproef. Dis ’n dansliedjie – dis steeds in ONS se kenmerkende klank, maar in dansstyl,” verduidelik hy.

Die liedjie vertel die verhaal van ’n meisie wat nie sommer haar kaarte op die tafel sit nie. Sy verklap min, praat nie veel nie en bly eerder stil. Maar sodra die musiek begin speel, verander die prentjie heeltemal. Haar danspassies sê immers meer as wat woorde ooit kan. “Haar heupe jok nie!”

“Die ou is van die begin af duidelik oor sy intensies. Hy wil met haar gesels, so dis half hierdie hele kat-en-muis-situasie,” voeg Ruvé Erasmus by.

Die kleur rooi was ’n doelbewuste keuse vir die nuwe enkelsnit, juis omdat dit anders voel as die duo se vorige vrystellings. Volgens Marco pas die kleur perfek by die liedjie se energie en unieke karakter.

“Ons hou van die liedjie. Dis vars en rooi staan net saam met dit uit,” vertel hy.

Die enkelsnit word vergesel deur ’n musiekvideo wat deur Eric T Graham en Tehan Buys opgeneem is. Die video volg ’n kreatiewe storielyn waarin die ontstaan van die liedjie deel van die vertelling vorm. Kykers kry ook ’n voorsmakie van die twee se persoonlikhede wanneer Marco probeer om Ruvé die danspassies te leer wat saam met “Heupe” gaan.

“Dis nogal ’n funny dans move,” lag Ruvé. Die duo hoop dié dansie gaan binnekort veel verder as die musiekvideo strek en dat aanhangers dit hul eie sal maak.

“Ons hoop mense begin ook die dansie doen en dat ons dit orals sal sien,” sê Marco. “Dis
maklik en enigiemand sal dit kan doen.”

Met “Heupe” bewys ONS dat hulle nie bang is om nuwe dinge te probeer nie, sonder om hul eie identiteit prys te gee. Die resultaat is ’n speelse, dansbare snit wat luisteraars uitnooi om die volume harder te draai, die danspassies aan te leer en dalk self ’n bietjie rooi by hul wêreld te voeg.

Volg ONS
Facebook :
Kliek Hier
Instagram : Kliek HIer
TikTok : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
#Artist#Musicians#Coleske Groep#New Song