The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

Marno van der Merwe bring weer die kuier gees

By Charlene Bekker09 Oct 2026👁️ 101 views
Marno van der Merwe bring weer die kuier gees
Die inspirasie vir die titel en tema kom uit ’n onverwagse bron – ’n frase wat Springbokafrigter Rassie Erasmus in ’n video gebruik het.
FOTOKREDIET: Hendri Fourie

Marno van der Merwe is geen vreemdeling wanneer dit by goeie kuiermusiek kom nie. Met treffers soos “Ouens Soos Ek”, wat reeds meer as vyf miljoen kyke op YouTube opgelewer het, het hy homself stewig gevestig as een van die stemme wat weet hoe om ’n partytjie aan die gang te sit.

Nou is hy terug met nóg ’n liedjie wat gemaak is vir saamsing, saamkuier en ’n koue een in die hand: “Slegte Dag Om ’n Dop Te Wees”.

Die inspirasie vir die titel en tema kom uit ’n onverwagse bron – ’n frase wat Springbokafrigter Rassie Erasmus in ’n video gebruik het.

“Rassie het dit in ’n video gesê en ek, Georic Lomas en Marco van Deventer het gedink dis ’n goeie angle om ’n liedjie oor te skryf,” vertel Marno.

Die resultaat is ’n opgewekte kuierliedjie wat die humor en lekker-lag-houding van ’n aand saam met vriende vasvang.

“Die liedjie gaan oor mense wat kuier. Dis maar net oor ouens wat ’n slegte dag het, of dit gaan rof. Of jy is lus vir ’n kuier – dan is dit ’n slegte dag vir die dop,” sê hy.

Met sy aansteeklike energie en tong-in-die-kies lirieke is “Slegte Dag Om ’n Dop Te Wees” ’n liedjie wat homself sommer vinnig tuis sal maak by braaivleisvure, kuierplekke en enige plek waar vriende bymekaarkom.

Die musiekvideo, wat deur Eric T Graham en Tehan Buys verfilm is, pas perfek by die liedjie se gees. Die video is in ’n kroeg geskiet en vertel die storie van ’n groep mans in pakke ná ’n lang dag by die werk.

“Dis ’n klomp ouens in pakke ná ’n lang dag. Hulle drink al die bier op wat in die hande kan kry,” vertel Marno met ’n lag.

Met “Slegte Dag Om ’n Dop Te Wees” bewys Marno van der Merwe weereens dat hy presies weet wat dit verg om mense aan die sing, lag en kuier te kry. Maak dus reg vir ’n liedjie wat waarskynlik nog lank ná die eerste luister in jou kop gaan sit.

Volg Marno Van Der Merwe
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
#Artist#Musician#National News#Coleske Groep