The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

JACOBUS stel sy debuutalbum, ‘As Jy Wonder’, bekend!

By Charlene Bekker20 Nov 2026👁️ 101 views
JACOBUS stel sy debuutalbum, ‘As Jy Wonder’, bekend!
“Ek is baie opgewonde oor my eerste album. Dis musiek wat ek geniet om te maak en na te luister – en jy hoop ander mense geniet dit net soveel,” vertel hy.
Die talentvolle sanger en liedjieskrywer JACOBUS het uiteindelik ’n groot mylpaal in sy musiekloopbaan bereik met die vrystelling van sy langverwagte debuutalbum, “As Jy Wonder”. Dié nege-snit-album bied ’n besondere blik op sy groei as kunstenaar en liedjieskrywer en bevat ses liedjies wat gehore reeds leer ken het, asook drie splinternuwe snitte.

Volgens JACOBUS is die album amper ’n pretrit deur die verskillende fases van liefde – van die opwinding van verlief wees tot die hartseer van ’n verhouding wat tot ’n einde kom. Met verskillende stories, emosies en klanke is daar iets waarmee elke luisteraar sal kan vereenselwig.

“Ek is baie opgewonde oor my eerste album. Dis musiek wat ek geniet om te maak en na te luister – en jy hoop ander mense geniet dit net soveel,” vertel hy.

Die album skop af met die fokussnit, “Net Jy”, wat sommer dadelik ’n ander klank aan luisteraars bekendstel. Die liedjie, wat deur Georic Lomas geskryf is, handel oor daardie spesiale mens wat eens alles vir jou was. Dit is amper ’n uitroep van erkenning dat daar niemand anders soos dié persoon is nie – dit was en sal altyd net jy wees.

Die liedjie word vergesel deur ’n musiekvideo waarin die verlede en die hede op interessante wyse saamvloei. Die vroulike karakter dra verskeie leidrade saam wat geleidelik ’n weerspieëling van die verlede vorm en die storie verder ontsluit.

Op nommer twee volg “Mila”, JACOBUS se grootste snit van die jaar en die liedjie wat hom sy eerste nommer-een-posisie op Apple Music besorg het. Dié snit vertel ’n ander kant van die verhaal – een van lig, vryheid en die soort herinneringe wat jou onverwags laat glimlag. Dit is ’n liedjie wat die mooi van ’n oomblik en die herinneringe wat daarmee saamgaan, vier.

Die derde snit, “In Die Hemel Soek”, is deur JACOBUS self geskryf en bring ’n besondere perspektief op liefde. Dit vertel die storie van iemand saam met wie die lewe op aarde só lekker is dat jy, selfs wanneer julle eendag in die hemel is, steeds daardie persoon sal gaan soek. Dit is ’n mooi gedagte oor ’n verbintenis wat veel dieper as die alledaagse strek.

Op nommer vier kry ons “Verby Dans”, ’n liedjie wat ’n baie spesiale oomblik vir JACOBUS vasvang.

“‘Verby Dans’ is geskryf omdat ek ’n oomblik wou vasvang wat ek met iemand baie spesiaal gedeel het,” vertel hy. “Dit gaan oor verlief raak ná die eerste dans en alles wat daartoe aanleiding gee.”

“Skree Vir Jou”, wat onlangs uitgereik is, is die vyfde snit op die album. Die liedjie kyk na die waarde daarvan om die meeste te maak van die tyd wat jy saam met iemand het, selfs wanneer dinge nie altyd volgens plan verloop nie. Dit raak ook aan die manier waarop herinneringe soms deurmekaar kan raak met die werklikheid.

“‘Skree Vir Jou’ gaan daaroor om soveel as moontlik te doen met die tyd wat jy het, ongeag of dinge verkeerd kan loop. Dit raak ook aan die gevoel dat jy soms met jouself praat en dink jy beleef herinneringe alleen, al is dit nie noodwendig die waarheid nie. Dit is eintlik ’n eerlike weerspieëling van wat destyds in my kop aangegaan het,” verduidelik JACOBUS.

Die sesde snit, “Huil Oor Jou”, is een van die drie splinternuwe liedjies op die album. Dit vertel die verhaal van iemand vir wie jy baie omgee wat oorsee vertrek. Hoewel die afstand tussen die twee mense groot is, bly die een wat agterbly met verlange en hartseer agter. Dit is ’n eerlike uitbeelding van hoe moeilik dit kan wees wanneer iemand wat ’n belangrike deel van jou lewe is, skielik ver weg is.

Op nommer sewe keer JACOBUS terug na waar sy musikale reis amptelik begin het met sy debuutenkelsnit, “Gat In Jou Sak”. Dié liedjie het ontstaan uit ’n spontane idee wat by hom opgekom het terwyl hy en sy broer op pad plaas toe was. Die konsep van iets verloor deur ’n gat in jou sak het vinnig in ’n volledige storie ontwikkel.

Met sy rou akoestiese klank en sterk storievertelling het dié liedjie die eerste hoofstuk van JACOBUS se loopbaan as opnamekunstenaar ingelui. Dit was immers sy musikale debuut wat gevolg het nadat ’n TikTok-video waarin hy Demi Lee Moore se “Mis Eet Slaap Herhaal” op sy eie manier vertolk het, die aandag van Coleske Artists getrek en uiteindelik tot ’n platekontrak gelei het.

Dit word opgevolg deur “Wag Dat Jy Terugkeer”, sy tweede enkelsnit, wat ’n meer persoonlike en emosionele kant van JACOBUS se storievertelling wys. Dié alternatiewe liedjie is deur homself geskryf en het ontstaan uit ’n tyd in sy lewe toe hy en iemand spesiaal se paaie geskei het. Die liedjie vang die gevoel van afwagting, verlies en verlange vas – daardie hoop dat iemand wat uit jou lewe verdwyn het, dalk eendag weer sal terugkeer.

Met ’n drywende akoestiese klank en eerlike lirieke verken die liedjie die emosies wat met so ’n afskeid gepaardgaan. Dit is musiek waarin luisteraars moontlik hul eie ervarings sal herken en waarmee hulle ’n diep emosionele verbintenis kan vorm.

Die album word op ’n besondere noot afgesluit met “Probeer”, ’n duet saam met Demi Lee Moore. Dié samewerking is ’n besonderse volsirkel-oomblik vir JACOBUS, aangesien sy weergawe van Demi Lee se “Mis Eet Slaap Herhaal” juis die aandag van Coleske Artists op hom gevestig het en gehelp het om sy musiekloopbaan aan die gang te sit.

Om nou ’n oorspronklike liedjie saam met die kunstenaar wat onbewustelik ’n belangrike rol in sy loopbaan gespeel het, te kan uitreik, maak dié laaste snit ’n gepaste afsluiting van sy eerste album.

Met “As Jy Wonder” bied JACOBUS nege snitte wat verskillende kante van liefde, verlange, herinneringe en die lewe vasvang. Die album is nie net ’n versameling liedjies nie, maar ook ’n weerspieëling van sy ontwikkeling as kunstenaar en die stories wat hy deur sy musiek wil vertel.

Volg Jacobus 
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier

#Artist#Musicians#Coleske Groep#New Song