The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

Dewald Wasserfall se hart klop stééds vir Suid-Afrika met nuwe enkelsnit

By Charlene Bekker23 Oct 2026👁️ 35 views
Dewald Wasserfall se hart klop stééds vir Suid-Afrika met nuwe enkelsnit
Nou, ná vier jaar se musiekstilte, is hy gereed om ’n nuwe hoofstuk aan te pak en sy gehoor met vars musiek te verras
FOTOKREDIET: Hendri Fourie

Al het die sanger Dewald Wasserfall Suid-Afrika vir Nederland verruil, klop sy hart steeds warm vir sy geboorteland. Met sy splinternuwe enkelsnit, “Kop en Hart”, wat pas uitgereik is, bring hy ’n tema na vore waarmee baie Suid-Afrikaners hulle sal kan vereenselwig: die innerlike stryd tussen die lewe wat jou kop vir jou kies en die plek waar jou hart werklik hoort.

Vroeër vanjaar het Dewald teruggekeer huis toe om sy Suid-Afrikaanse aanhangers weer met van sy grootste treffers te bederf. Liedjies soos “Sewentien”, “Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde” en “Elektrisiteit” het herinneringe laat herleef en gewys dat sy musiek steeds ’n spesiale plek in luisteraars se harte het.

Nou, ná vier jaar se musiekstilte, is hy gereed om ’n nuwe hoofstuk aan te pak en sy gehoor met vars musiek te verras.

“Dis baie opwindend, maar ook baie uitdagend. Musiek (en die musiekbedryf) het soveel verander in die laaste vier jaar. Ek voel bietjie soos ’n dinosourus wat nou nuwe tricks moet leer. Nietemin is ek aangenaam verras met die positiewe reaksie wat ek ontvang ná so ’n lang stil tydperk,” vertel hy.

“Kop en Hart” is geskryf deur die bekroonde liedjieskrywers Georic Lomas en Marco van Deventer en handel oor die bekende tweestryd tussen logika en emosie. Soms sê jou kop vir jou dat ’n bepaalde besluit die regte een is, terwyl jou hart jou in ’n heel ander rigting trek.

Dié tema is veral relevant vir mense wat dit oorweeg om Suid-Afrika vir ’n lewe in die buiteland te verruil. Jou kop sien dalk die geleenthede wat elders op jou wag, maar jou hart bly geheg aan die mense, herinneringe en plekke wat jou gevorm het.

“Georic Lomas en Marco van Deventer het die eerste weergawe geskryf en vir my gestuur. Ek het toe ’n bietjie aan die liriek geskaaf sodat dit voel soos my eie,” verduidelik Dewald.

“Ek dink almal van ons het daardie ‘wat as...?’-gedagtes. Hopelik wek dit bietjie heimwee op en laat dit mense bietjie nadink oor hulle besluite,” voeg hy by.

Vir Dewald, wat self deesdae oorsee woon, dra die liedjie ’n besondere betekenis. Dit raak aan die komplekse emosies wat met groot lewenskeuses gepaardgaan en die besef dat ’n mens se geografiese ligging nie noodwendig bepaal waar jou hart tuis is nie.

Hoewel “Kop en Hart” ’n nuwe klankhoofstuk vir die sanger inlui, bly sy kenmerkende stem en musikale identiteit steeds deel van die resep. Die samewerking met Georic en Marco het hom terselfdertyd die geleentheid gegee om buite sy gewone kreatiewe kring te beweeg.

“Ek dink solank dit by my mond uitkom, gaan dit altyd min of meer soos ek klink, maar dit was verfrissend om met ander skryfvennote te werk. Ek dink Georic en Marco het my styl heel goed vasgevang in die liedjie,” sê hy.

Die nuwe enkelsnit word uitgereik terwyl Dewald in Nederland woon, wat beteken dat aanhangers nie noodwendig binnekort ’n toer deur Suid-Afrika kan verwag nie.

“Dis liedjie word ook vrygestel terwyl ek oorsee woon, so ons gaan ongelukkig nie nou in ’n toerbus spring en die land platry nie,” skerts hy.

Ondanks die afstand en die jare se musiekstilte is Dewald se waardering vir sy Suid-Afrikaanse aanhangers duidelik. Hulle voortgesette ondersteuning beteken vir hom baie en maak die terugkeer na nuwe musiek des te meer besonders.

“Ek is net super dankbaar dat julle nog luister na my musiek. Julle laat my rêrig spesiaal voel en ek hoop julle kan pragtige memories maak met ‘Kop en Hart’,” sê hy.

Met “Kop en Hart” herinner Dewald Wasserfall luisteraars daaraan dat groot lewenskeuses selde net ’n kwessie van logika is. Soms neem jou kop jou na nuwe horisonne, maar bly jou hart altyd verbind aan die plek waar alles begin het.

Volg Dewald Wsserfall
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier

#Artist#Musicians#Coleske Groep#New Song