National News
Corlea klim hoër met nuwe enkelsnit ‘Trappe’
Byna drie jaar ná haar laaste oorspronklike vrystelling keer Corlea terug met ’n besonderse liefdeslied – en ’n liedjie wat ook ’n postume samewerking met wyle Johan Oberholzer geword het.
Foto Krediet : Hendri Fourie
Dit is byna drie jaar sedert Corlea ’n oorspronklike liedjie uitgereik het, maar die gewilde sangeres is terug – sterker, meer seker van haar stem en met ’n liedjie wat haar diep persoonlik raak.
Dit is byna drie jaar sedert Corlea ’n oorspronklike liedjie uitgereik het, maar die gewilde sangeres is terug – sterker, meer seker van haar stem en met ’n liedjie wat haar diep persoonlik raak.
Met haar nuwe enkelsnit, “Trappe”, bring Corlea nie bloot nóg ’n liefdeslied na die Afrikaanse musiektoneel nie. Die liedjie, wat oorspronklik deur die ontslape liedjieskrywer Johan Oberholzer geskryf is, het oor jare ’n besonderse betekenis vir haar gekry en uiteindelik ontwikkel in ’n musikale samewerking wat sy ná sy dood voltooi het.
“Ek dink in Afrikaans het ons ontdek dat ons ’n groot kuierkultuur het. Almal neem deel aan daardie kultuur. Ek luister wel na die lekker kuiermusiek, maar dit is nie die tipe musiek wat ek sing nie,” vertel Corlea.
Vir haar moet ’n liedjie méér doen as om net lekker te klink. Dit moet iets in haar wakker maak.
“Die musiek wat ek sing, moet ek kan voel tot in my siel en my wese. So, once in a blue moon kom daar ’n liedjie oor my pad en ek het net besluit: hierdie liedjie moet eenvoudig gehoor word.”
Die konsep agter “Trappe” is reeds in die titel opgesluit. Oberholzer gebruik die trappe van vergelyking – mooi, mooier, mooiste – om die ontwikkeling van liefde te beskryf.
“Ek dink Johan was ’n geniale skrywer en dit vat werklik iemand met ongelooflike skryfvernuf om ’n liedjie te skryf van trappe van vergelyking. Dis hoe die liedjie begin – eers mooi, mooier, dan mooiste en dan jy.”
Hoewel “Trappe” ’n liefdeslied is, lê die emosionele betekenis daarvan vir Corlea ook in die idee dat liefde iets is waaraan ’n mens voortdurend moet werk.
“Vir my persoonlik in ’n verhouding is dit ‘give or take’ en mens moet seker maak dat jy saam groei. Dit is so ’n maklike ding om apart te groei. Om saam te bly groei is iets waaraan ’n mens
konstant moet werk.”
Dit is ’n boodskap waarmee Corlea haarself tans besonder sterk kan vereenselwig. Sy is verloof aan JD Mars en beskryf haarself as iemand wat tans die mooi van liefde in haar eie lewe ervaar. “Liefde is seker een van die mooiste dinge om oor te sing.”
Die hart van die liedjie word treffend vasgevang in die woorde:
“Ek klim die trappe na jou. Maar die trappe is gebou met die klippe uit die kamers van jou hart.” Die storie agter “Trappe” begin sowat vier of vyf jaar gelede toe Oberholzer Corlea na sy huis in Pretoria genooi het. Hy het destyds ’n klein demo van die liedjie aan haar voorgelê.
Daar was egter aanvanklik net ’n eerste vers en ’n koor.
Tyd het verbygegaan, en soos dit maar gebeur, het die liedjie op die agtergrond geraak. Totdat Corlea jare later weer op die demo afgekom het.
“Daar was net ’n eerste vers en ’n koor. Ek moes toe diep delf in my inner Johan Oberholzer en
die liedjie klaar maak.”
Die proses het van “Trappe” iets besonder persoonlik gemaak. Ná ’n bietjie skaaf- en skuurwerk het Corlea die liedjie ontwikkel tot die weergawe wat nou vrygestel word. “Ek is baie trots om te weet ek kon darem ook saam met Johan ’n liedjie skryf, al is dit nou ná sy dood.”
Vir Corlea is “Trappe” dus meer as net ’n nuwe enkelsnit. Dit is ’n huldeblyk aan ’n liedjieskrywer wat sy talent diep bewonder het, én ’n geleentheid om ’n stukkie van sy kreatiewe nalatenskap met haar eie stem voort te dra.
So spesifiek soos Corlea oor haar musiek is, was sy ook doelgerig oor die visuele identiteit van
“Trappe”.
Vir die omslag het sy ’n baie duidelike prentjie in haar kop gehad: ’n elegante swart uitrusting, syself op ’n stel trappe en ’n direkte, intense kyk in die kamera.
Die eindresultaat is ’n minimalistiese maar sterk beeld waarin die foto nie probeer verduidelik wat die liedjie beteken nie – dit laat die kyker eerder voel.
“As mens uit die teaterwese uit kom, het mens geleer dat as jy sing van die lug of die grond, hoef jy nie letterlik daarna te wys nie. So, ‘Trappe’ was nogal ’n uitdaging.”
Volgens Corlea is die visuele vertelling van ’n liedjie deesdae net so belangrik soos die musiek self. “Die visuele kuns is nét so belangrik soos die liedjie.”
Sy gee die krediet vir die finale resultaat aan die span wat haar visie help verwesenlik het: fotograaf Hendri Fourie, Mamilla Fashions vir haar uitrusting, FDK Styling en Josh, wat haar hare gedoen het.
“Almal het net onmiddellik die opdrag verstaan. Ek dink ons het met iets baie sterk vorendag gekom.”
Met “Trappe” keer Corlea dus terug na oorspronklike musiek met ’n liedjie wat tegelyk persoonlik, emosioneel en tydloos is – ’n liedjie oor liefde, groei en die keuses wat ’n mens maak om saam met iemand aan te hou klim.
“Ek is mal oor die liedjie. Ek dink die boodskap is ongelooflik en ek glo dit is iets waarby elkeen
aanklank sal kan vind.”
