The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

Bernice West trek nuwe ‘lyntjies’ met kragtige, persoonlike enkelsnit

By Charlene Bekker16 Oct 2026👁️ 30 views
Bernice West trek nuwe ‘lyntjies’ met kragtige, persoonlike enkelsnit
In ’n wêreld waar almal skynbaar ’n opinie het oor hoe ’n vrou moet lyk, optree, leef en presteer, wil Bernice ’n eenvoudige, maar kragtige boodskap oordra: Dit is oukei om jou tyd te vat om uit te vind wie jy is.
FOTOKREDIET: Anton Ferreira

Bernice West is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Lyntjies”, waarin sy nie bang is om ’n dieper en meer persoonlike boodskap met haar luisteraars te deel nie. Dié liedjie, wat sy self geskryf het, raak aan die teenstrydige verwagtinge wat die samelewing aan vrouens stel en die druk om voortdurend aan ander se idees van wie en wat hulle behoort te wees, te voldoen.

In ’n wêreld waar almal skynbaar ’n opinie het oor hoe ’n vrou moet lyk, optree, leef en
presteer, wil Bernice ’n eenvoudige, maar kragtige boodskap oordra: Dit is oukei om jou tyd te
vat om uit te vind wie jy is.

“Ek besef dat ons in ’n samelewing leef waar daar soveel opinies en geraas is oor wie vrouens moet wees, hoe hulle hulself moet dra, hoe hulle moet lyk en wat hulle moet doen en bereik. Alles is so teenstrydig,” vertel Bernice.

“Die hoofboodskap wat ek aan mense, veral vrouens wat dit dalk uitdagend mag vind, wil oordra, is dat dit OKAY is om jou tyd te vat en jouself uit te figure. Jy hoef nie saam met die stroom te swem as dit jou nie gemaklik laat voel nie. DIT. IS. OKAY!”

Die inspirasie vir “Lyntjies” het uit Bernice se eie ervaring met kritiek en menings oor haar loopbaan ontstaan. Te midde van al die geraas het sy haarself by die klavier bevind, waar die woorde en melodie volgens haar byna vanself gekom het.

“Ek dink die oomblik toe ek soveel kritiek, opinies en geraas in my loopbaan begin ervaar het, het ek voor die klavier gaan sit, en die liedjie het basies vanself gekom. Ek dink die skryf van ‘Lyntjies’ was vir my ’n uitlaatklep!”

Die liedjie sou egter nie onmiddellik die lig sien nie. Bernice het dit vir meer as ’n jaar teruggehou nadat iemand aan haar gesê het dat dit “te hard” is. Die opmerking het haar laat nadink oor die boodskap en die moontlike ontvangs daarvan, en sy het besluit dat die tyd nog nie reg was nie.

Maar ’n besondere oomblik tydens een van haar vertonings het haar perspektief verander.

“’n Paar maande later daag ek by ’n vertoning op, en in die middel van die vertoning besef ek dat daar net meisies, dogtertjies en vrouens voor my in die gehoor staan. In daardie oomblik het ek vrede gekry, want ek het besef dat al hierdie jong meisies, dogtertjies en vrouens deel is van ’n generasie wat te midde van al hierdie teenstrydighede moet grootword.”

Dit was juis daardie besef wat die betekenis van “Lyntjies” vir Bernice bevestig het. Die liedjie gaan nie bloot oor kritiek of die verwagtinge wat op vrouens geplaas word nie, maar ook oor die ruimte om jou eie identiteit te ontdek sonder om voortdurend ander se goedkeuring te probeer kry.

“En as almal iets te sê het oor hoe, wie en wat ’n vrou moet wees, wil ek sê dat dit OKAY is om jou tyd te vat om uit te figure wie jy is, waarvoor jy staan en waarvan jy hou, sonder om onder die druk van die samelewing te swig!”

Met “Lyntjies” het Bernice ook die geleentheid aangegryp om klankgewys met iets nuuts te eksperimenteer. Hoewel die enkelsnit eenvoudiger aangebied word as wat luisteraars dalk van haar verwag, bly die kenmerkende elemente van haar klank en handelsmerk steeds herkenbaar.

“Ons het beslis klankgewys iets nuuts probeer, maar as jy mooi luister, sal jy steeds die elemente van my klank en brand kan hoor! Dis net op ’n baie eenvoudiger manier aangebied,” sê sy.

Daar is tans geen musiekvideo vir die enkelsnit nie, hoewel Bernice nie toekomstige moontlikhede uitsluit nie.

Wat die ontvangs van “Lyntjies” betref, laat sy die musiek en die boodskap eerder vir hulself praat.

“Eerlikwaar, ek weet nie hoe mense dit gaan ontvang nie. Ek probeer om nie my kop op ’n bepaalde reaksie in te stel nie. Maar een ding is seker: óf jy gaan daarvan hou, óf nie.”

Vir Bernice lê die waarde van die liedjie egter nie noodwendig in hoe almal daarop gaan reageer nie, maar eerder in die boodskap wat dit dra. Die genre en klank mag dalk nie by elke luisteraar aanklank vind nie, maar die kern van “Lyntjies” bly vir haar die belangrikste.

In ’n wêreld wat dikwels voorskryf hoe mense behoort te leef, is “Lyntjies” ’n herinnering dat niemand anders die lyne hoef te trek waarbinne jy jou lewe moet inpas nie. Soms begin jou eie pad juis wanneer jy ophou probeer om aan almal anders se verwagtinge te voldoen.

Volg Bernice West 
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
#Artist#Musicians#Coleske Groep#New Song