National News
Anke Coetzer maak haar debuut as deel van die Coleske-familie
Nou is Anke amptelik deel van die Coleske-familie en het sy pas haar debuutenkelsnit, “Vergeet Om Jou Te Mis”, uitgereik.
Wat begin het as ’n spontane video op sosiale media, het nou vir die sangeres Anke Coetzer in ’n nuwe hoofstuk van haar musiekloopbaan ontaard. Vroeër vanjaar het Anke en haar sussie, Elmé Erasmus, ’n video gedeel waarin hulle Riaan Benadé se treffer “Keeza” sing. Dié video het soos ’n veldbrand versprei en selfs die aandag van Coleske Artists getrek.
Nou is Anke amptelik deel van die Coleske-familie en het sy pas haar debuutenkelsnit, “Vergeet Om Jou Te Mis”, uitgereik.
“Ek is baie opgewonde oor hierdie liedjie! Dis so ’n lekker liedjie waarna ek net oor en oor wil luister,” vertel sy.
Die titel verklap reeds waaroor die liedjie gaan. Volgens Anke beskryf dit daardie bevrydende oomblik wanneer jy uiteindelik oor iemand gekom het wat eens ’n groot deel van jou lewe was, maar nou nie meer is nie.
“Dit is daardie gevoel wat jy het wanneer jy oor iemand is wat miskien lank deel van jou lewe was en nou nie meer is nie, en jy is uiteindelik okay daarmee. Jy kan nou weer jou beste lewe leef, want daardie een persoon wat heeltyd in jou gedagtes was, is sommer nou heeltemal vergete! Jy het vergeet om die persoon te mis – letterlik.”
“Vergeet Om Jou Te Mis” is deur Anke, Marco van Deventer en Georic Lomas geskryf en bied luisteraars ’n vars kykie op die oomblik wanneer jy besef dat jy aanbeweeg het.
Die musiekvideo vir die enkelsnit is besonder spesiaal vir Anke, wat haarself tydens die verfilming behoorlik uitgedaag het. Die ervaring het haar egter met een van haar gunstelingherinneringe gelaat.
“Die musiekvideo is een van my GUNSTELING-dinge onder die son! Ons was in ’n random tannie se wilde tuin – wat baie oulik was en boonop ’n baie oulike golden retriever gehad het.
Daar was allerhande verskillende blomme in al die kleure van die reënboog. Daar was selfs sonneblomme en ek het gevoel soos ’n feëtjie wat deur ’n blommetuin hardloop.”
Daar was allerhande verskillende blomme in al die kleure van die reënboog. Daar was selfs sonneblomme en ek het gevoel soos ’n feëtjie wat deur ’n blommetuin hardloop.”
Met skoenlappers, bye en sonneblomme as deel van die natuurtoneel het die dag vir haar soos ’n sprokie gevoel.
“Dit het soos ’n sprokie gevoel en ek het net my hart uitgesing in die tannie se tuin.” Anke beskryf haarself as ’n ware veelsydige mens. Buiten haar liefde vir musiek is sy ook ’n gekwalifiseerde apteker en geniet sy dit om so nou en dan in die apteek te werk.
Tog was musiek nog altyd haar grootste passie. Sy tree reeds sedert die ouderdom van 16 op en skryf al haar eie liedjies sedert graad sewe.
“Ek is ietsie van alles. Ek is ’n gekwalifiseerde apteker en ek geniet dit ook om so nou en dan in die apteek te werk. Maar my groot liefde en passie lê nog altyd by musiek en die verhoog. Ek tree al op vandat ek 16 jaar oud is en skryf al liedjies van graad sewe af – ek dink ek was omtrent 13 jaar oud.”
As sy net een ding vir die res van haar lewe kon kies, is haar antwoord eenvoudig: “Om te sing en roomys te eet. Ek love roomys!”
Musiek is nie die enigste verhoog waarop Anke al haar merk gemaak het nie. In 2023 het sy ook aan die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie deelgeneem, ’n ervaring wat sy as ’n groot leerskool beskryf.
“Mej. Suid-Afrika was ’n groot leerskool. Dit was my eerste en enigste poging om aan ’n skoonheidskompetisie deel te neem. Ek het vir die eerste keer by Mej. SA geleer hoe om op hoëhakskoene te loop en ook hoe om ordentlik grimering te doen.”
Nog ’n besondere hoogtepunt in haar loopbaan is haar deelname aan die realiteitsprogram Tropika Island of Treasure, waarin sy tans te sien is.
Sy en die aktrise Leandie du Randt vorm ’n span, en Anke het niks anders as lof vir haar spanmaat nie.
“Ek en Leandie du Randt is in ’n span en ek kon nie vir ’n beter spanmaat gevra het nie. Dis asof die Here ons net bymekaar gesit het! Sy leer my elke dag so baie en ek lag meer as ooit tevore saam met haar.”
Met haar eerste enkelsnit nou op stroomdienste beskikbaar, is daar beslis rede om Anke dop te hou. Sy verklap dat daar nog heelwat musiek in haar argiewe lê wat sy graag met luisteraars wil deel.
“Ek hoop so! Ek het soveel liedjies in die argiewe wat ek oor die jare geskryf het, so ek hoop om dit binnekort met julle te deel!”
Met ’n nuwe tuiste by Coleske Artists, ’n debuutenkelsnit wat reeds die begin van ’n opwindende musikale reis aandui en ’n klomp liedjies wat nog wag om die lig te sien, is Anke Coetzer se storie nog maar net besig om te begin.
Volg Anke Coetzer
Facebook: Kliek Hier
Instagram: Kliek Hier
TikTok: Kliek Hier
Volg Anke Coetzer
Facebook: Kliek Hier
Instagram: Kliek Hier
TikTok: Kliek Hier
