The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

André Venter maak ná 10 Jaar sy terugkeer na Afrikaanse musiek met “’n Rondte om Die Son”

By Charlene Bekker01 Oct 2026👁️ 506 views
André Venter maak ná 10 Jaar sy terugkeer na Afrikaanse musiek met “’n Rondte om Die Son”
Andre Venter (van Romanz bring nuwe enkelsnit uit na 10 jaar)
Die voormalige ROMANZ-sanger se nuwe enkelsnit, geskryf deur Sunette Bridges as deel van haar Stormloop 100 projek en opgeneem en vervaardig deur Rivers & Bridges Music, vertel van die lewe, dankbaarheid en die paaie wat ons soms onverwags huistoe bring.

CHARLOTTE, VSA / SUID-AFRIKA — Tien jaar nadat André Venter laas nuwe Afrikaanse musiek vrygestel het, keer die bekende Suid-Afrikaanse sanger terug met ’n lied wat besonder gepas voel vir hierdie nuwe hoofstuk van sy lewe.

’n Rondte om die Son, geskryf deur Sunette Bridges en vrygestel in samewerking met Rivers & Bridges Music, is ’n warm, nostalgiese terugblik op die lewe — die foute, die drome, die mense, die musiek endie klein oomblikke wat uiteindelik ’n mens se storie vorm.

Die lied se sentrale gedagte word vasgevang in die eenvoudige beeld van nóg ’n “rondte om die son”: om terug te kyk met dankbaarheid, maar steeds met genoeg verwagting om vorentoe te droom. Vir Venter is dié woorde besonder persoonlik.

“Hierdie lied het my op ’n plek in my lewe gekry waar ek besef het hoe vinnig die jare verbygaan. ’n Mens maak planne, maar baie van die mooiste dele van jou lewe gebeur juis buite daardie planne. Ek is ongelooflik dankbaar vir waar die pad my gebring het — maar Suid-Afrika, Afrikaans en musiek sal altyd deel wees van wie ek is.”

VAN ROMANZ TOT ’N NUWE LEWE IN AMERIKA
Venter is geen vreemdeling vir Suid-Afrikaanse gehore nie. As bass-bariton van ROMANZ was hy deel van een van Suid-Afrika se suksesvolle klassieke-popgroepe. ROMANZ het agt albums in Suid-Afrika uitgereik, waarvan ses platinumstatus en twee dubbelplatinumstatus bereik het. Venter het gedurende dié tyd op plaaslike en internasionale verhoë opgetree, onder meer saam met Andrea Bocelli en Rod Stewart, en was deel van die musiekprogram tydens die koninklike troue van Prins Albert II en Prinses Charlene van Monaco.

Hy het ook Suid-Afrika se volkslied by verskeie internasionale Springbok-toetse gesing, waaronder wedstryde teen die All Blacks en Wallabies in Suid-Afrika, Australië en Engeland. Ná ROMANZ het Venter ’n solo-loopbaan gevolg en ook as televisie-aanbieder gewerk. Sy eerste solo-album, Die Man vir Jou, is in 2015 uitgereik en het later benoemings vir onder meer ’n Ghoema- en Tempo-toekenning ontvang.

Venter en sy gesin woon sedert 2020 in die Verenigde State, waar hy vandag ’n lewe tussen musiek, bediening, gesin en die korporatiewe wêreld bou. Professioneel werk hy in Charlotte, Noord-Carolina, by Sonic Automotive as programbestuurder in franchise-e-handel.

Terselfdertyd het musiek nooit verdwyn nie. Venter dien as ’n reisende aanbiddingsleier en kunstenaar n is aktief betrokke by geloofsgemeenskappe in Amerika. Vir hom gaan dié rol oor die vermoë van musiek om mense te bereik, gemeenskap te bou en geloof uit te leef.

“Die verhoog lyk vandag anders as tien of vyftien jaar gelede. Ek geniet my werk in die korporatiewe wêreld geweldig, maar musiek bly deel van my DNA. Om aanbidding te lei het my opnuut herinner dat ’n lied nie noodwendig groot hoef te wees om betekenisvol te wees nie. Dit moet net eg wees.”

’N LIED OOR DIE LEWE WAT AANGAAN
Dit is juis daardie volwassenheid wat deur ’n Rondte om die Son loop. Die lied kyk met ’n glimlag terug na die paaie wat soms droog geloop het, foute waaruit geleer is en herinneringe wat oor die jare versamel is. Tog kyk dit ook vorentoe: na ’n hart wat jonk bly, dankbaarheid vir elke nuwe dag en die voorreg om nóg ’n rondte om die son te sien.

Die verwysings na musiek en bekende Suid-Afrikaanse herinneringe gee die lied ’n persoonlike,
herkenbare karakter — iets wat ’n mens saamneem, ongeag hoe ver van die huis af jy woon.

SAMEWERKING MET SUNETTE BRIDGES
Die nuwe enkelsnit bring Venter saam met liedjieskrywer Sunette Bridges en Rivers & Bridges Music. Hul gedeelde Suid-Afrikaanse wortels, terwyl albei vandag in Amerika woon, maak die samewerking besonder gepas.
“Sunette verstaan daardie vreemde balans wanneer jou lewe in Amerika is, maar ’n deel van jou
hart steeds Afrikaans dink en sing. Toe hierdie lied by my uitkom, het ek dadelik iets van myself
daarin gehoor.”

EN DIT IS NET DIE BEGIN
Hoewel ’n Rondte om die Son Venter se eerste Afrikaanse vrystelling in tien jaar is, werk hy reeds aan verskeie nuwe musiekprojekte. Meer besonderhede sal binnekort bekend gemaak word. Dit sluit nuwe Afrikaanse en internasionale materiaal in, asook werk vir die Duitse mark. Vroeër in sy solo-loopbaan het hy in Keulen, Duitsland, aan materiaal vir dié mark gewerk.

“Ek voel nie ek probeer teruggaan na waar ek was nie. Ek is dankbaar vir ROMANZ, vir die groot verhoë, die albums en alles wat daardie jare vir my beteken het. Maar hierdie is iets nuuts. Ek wil musiek maak vanuit wie ek vandag is — as man, pa, aanbiddingsleier, sakeman, Suid-Afrikaner in Amerika en steeds, diep binne-in, ’n kunstenaar.”

Om dankbaar terug te kyk, voluit vandag te leef — en steeds uit te sien na die volgende rondte.


ENKELSNIT
’n Rondte om die Son - ISRC
KUNSTENAAR André Venter
LIEDJIESKRYWER Sunette Bridges
IN SAMEWERKING MET Rivers & Bridges Music
TAAL Afrikaans
VRYSTELLING 29 September 2026

#Artist#Musician#National News#LCP Productions