The Go-To Guy
The Gazette · North West News
← Back to The Gazette
Potch Gazette

Dringende Beroep: Help vir Baba Johanru O'Kelly

By Charlene Bekker16 Jul 2026👁️ 20 views
Op slegs een maand oud moes klein Johanru O'Kelly reeds 'n baie rowwe pad begin stap. Wat as skielike voedingsprobleme op Vrydag, 10 Julie 2026 begin het, het vinnig in 'n dringend

Op slegs een maand oud moes klein Johanru O'Kelly reeds 'n baie rowwe pad begin stap. Wat as skielike voedingsprobleme op Vrydag, 10 Julie 2026 begin het, het vinnig in 'n dringende mediese krisis ontaard.


Foto : BackaBuddy

Sy ouers, Saartjie en Johannes O'Kelly, het hom dadelik na die noodafdeling gehaas. Aanvanklik is hulle meegedeel dat daar niks ernstigs fout is nie en is hulle huis toe gestuur. Maar as ouers het hulle geweet hul babaseuntjie veg teen iets groter.


Die Diagnose

Toe Johanru steeds nie sy melk kon binnehou nie en al hoe swakker geword het, het sy ouers nie moed opgegee nie. Maandag is hy teruggehaas na die noodafdeling. Hierdie keer het 'n toegewyde pediater hom deeglik ondersoek en verdere toetse laat doen.


Die uitslag was 'n groot skok: klein Johanru het 'n vernouing van sy slukderm.

As gevolg van hierdie vernouing kan melk nie normaal na sy maag beweeg nie. Dit beteken dat hy niks van sy voeding kan binnehou nie en kritieke voedingstowwe misloop. Hy moet dringend 'n prosedure ondergaan om sy slukderm te vergroot sodat hy normaal kan voed, kan aansterk en gesond kan ontwikkel.


Die Finansiële Hulpkreet

Die gesin is tans in 'n hospitaal in Johannesburg waar Johanru die nodige spesialisbehandeling ontvang. Ongelukkig word hierdie mediese krisis vererger deur 'n uiterse moeilike finansiële situasie.


As gevolg van onverwagse administratiewe probleme is daar tans 'n wagtydperk op die gesin se mediese fonds. Dit beteken dat die oorgrote meerderheid van Johanru se hospitaal- en spesialisuitgawes tans glad nie gedek word nie en uit eie sak betaal moet word.


Ons doen 'n nederige dog dringende beroep op die Potchefstroom-gemeenskap en elkeen wat geraak word deur hierdie storie. Ons doel is om R50 000 in te samel om sy mediese uitgawes, hospitalisasie, spesialisbehandeling, asook reis- en verblyfkoste vir sy ouers in Johannesburg te help dek.


Hoe Jy Kan Help

Om so 'n klein lyfie in nood te sien, is die ergste pyn wat enige ouer kan ervaar. Enige bydrae,klein of groot,sal 'n reuse verskil maak om die ouers se stres en finansiële las te verlig. Of dit nou 'n klein kontantbydrae is, of selfs 'n ekstra dingetjie om te eet vir die ouers terwyl hulle langs sy hospitaalbed waak, dit sal opreg waardeer word.


Indien jy nie finansieel kan bydra nie, help ons asseblief deur hierdie boodskap wyd te deel en die O'Kelly-gesin in jou gebede te hou.


Skenkingsbesonderhede

Jy kan direk bydra tot die gesin se bankrekening of die amptelike BackaBuddy-veldtog ondersteun:



Aanlyn Skenkings (BackaBuddy):

👉 Skenk hier op BackaBuddy


Kontak vir Navrae

Indien u meer inligting verlang of op enige ander manier praktiese hulp wil aanbied, kontak asseblief vir Kitty by 071 331 8334.


Baie dankie vir u ondersteuning, gebede en omgee gedurende hierdie ongelooflike moeilike tyd. Saam bring ons die stroom van omgee.