National News
Egmond vra jou om vir ‘n oomblik te "Stop"
Uitgereik deur Next Music
Ontdek dié EG Suid-Afrikaanse talent wat nie op sy MOND geval is nie. Afrikaanse popkunstenaar Egmond stel sy splinternuwe enkelsnit Stop bekend. Die tweede uitreiking vanaf sy komende EP, 17:28, is deur die bekroonde talent Leon Barnardt van LB Produksies vervaardig.
Selfs voordat die energieke popproduksie radio stasies kan betoor, word die nuwe 4K musiek video, wat ook deur Leon Barnard vervaardig is, reeds goedgekeur om sy debuut te maak op kykNET NOU se "Kraakvars" op DSTV kanaal 146.
Egmond is een van Lydia Winchester se laaste ontdekkings voordat sy haar welverdiende aftrede begin het na plus 40 jaar in die musiek industrie. Die Suid-Afrikaanse PR-guru en lewende legende het die sanger in 2023 bekendgestel met die Afri-Indie genomineerde treffer Pyn, ‘n duet met Australiaanse sangeres Kaley.
Sedertien spog hy met 5 treffers wat radio golwe betoor, insluitende die 2025 #1-treffer Aardbewing, wat verlede maand 50K kyker getalle verby gesteek het op YouTube. Stop se sterk melodiese aanslag neem luisteraars op 'n emosionele liefdesreis, en vertel die verhaal van 'n drawwer wat verlief raak op 'n misterieuse motoris.
Die voertuig dien self as 'n simboliese karakter – met helder ligte en 'n pad wat skynbaar eindeloos voorlê. Deur hierdie beeldspraak ondersoek Stop temas van verlange, hoop en die begeerte om raakgesien te word.
Die musiek video, wat in Hartebeespoort opgeneem was, lewer ‘n unieke vertelling van die lirieke. Die ou sê-ding dat ‘elke pot het sy deksel’ word slim uitgebeeld: ‘n drawwer, opsoek na die vermiste letter wat hom sal voltooi, vind dit toevallig op ‘n motor wat verby jaag. Die avontuur begin wanneer hy orals begin soek, en die motoris vind.
Vir Egmond was die onderwerp besonder persoonlik. "As iemand wat self gereeld hardloop, was dit maklik om vanuit daardie perspektief te skryf. Die afgelope jaar het ek 'n groot leefstylverandering gemaak en bykans 40 kg verloor deur konsekwent te oefen.
Dit was ongelooflik hoeveel vreemdelinge my langs die pad aangemoedig het – met 'n waai, 'n glimlag of net 'n kopknik. Daardie oomblikke het uiteindelik hul pad na die lied gevind." Die titel van Egmond se komende EP, 17:28, maak ook sy verskyning in Stop. Volgens die kunstenaar het die titel verskeie betekenisse.
"Net twee mense weet presies wat dit beteken," terg hy, en hoewel hy doelbewus nie alles verklap nie, mag mens hul eie gevolgtrekkings maak. Die EP vertel 'n tipe legkaart verhaal, en al voel dit somtyds asof hy sy siel ontbloot, sê Egmond dat die kern emosie 'n gevoel is wat almal verstaan.
#Artist#Musician#National News