The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
National News

Kom sit aan vir koffie in Winter Hotel se ‘Koffiewinkel’

By Charlene Bekker04 Sept 2026👁️ 153 views
Kom sit aan vir koffie in Winter Hotel se ‘Koffiewinkel’
Foto : Coleske Groep
Ná die suksesvolle bekendstelling van hul debuutenkelsnit, “Heuning”, is Bernice West en Droomsindroom terug met die tweede hoofstuk van hul musikale reis as Winter Hotel. Dié groep se splinternuwe enkelsnit, “Koffiewinkel”, is pas uitgereik en vorm deel van hul
opkomende album, “Winter”.

“Koffiewinkel” vertel die romantiese verhaal van ’n man en ’n vrou wat mekaar in ’n koffiewinkel ontmoet en stadig maar seker verlief begin raak. Met beeldryke lirieke en ’n speelse wisselwerking tussen die twee perspektiewe, vang dié liedjie daardie eerste opwindende oomblikke vas wanneer twee mense mekaar begin raaksien en besef dat daar moontlik iets
besonders tussen hulle aan die gebeur is.

“Die liedjie voel amper soos ’n flirterige gesprek tussen twee mense,” vertel Winter Hotel. “Dit gaan oor daardie eerste oomblikke waar jy iemand begin raaksien en daar iets tussen julle begin gebeur.”

Omdat ’n koffiedate deesdae byna sinoniem met ’n eerste afspraak geword het, glo die groep
dat luisteraars maklik met die storie sal kan vereenselwig. Wanneer ’n besonderse verhouding
op so ’n alledaagse plek begin, raak ’n mens dikwels nie net verlief op die persoon nie, maar
ook op die plek waar die eerste herinneringe geskep is.

Hoewel “Koffiewinkel” steeds binne dieselfde romantiese wêreld as “Heuning” afspeel, verken
dit ’n ander fase van liefde.

Waar “Heuning” handel oor hoe die lewe soeter voel wanneer jy reeds iemand spesiaal aan jou sy het, neem “Koffiewinkel” die luisteraar terug na die begin: die eerste ontmoeting, die aanvanklike skaamheid en daardie eerste onvergeetlike vonk.

Musikaal bied die nuwe enkelsnit ’n meer gestroopte, kontemporêre klank, teenoor “Heuning” se sterker pop-aanslag. Dié benadering plaas die fokus op die lirieke en die gesprek wat tussen
die karakters ontvou.

“Koffiewinkel” is deur Kirsten geskryf, wat ook die oorspronklike storie en rigting van die liedjie
gevestig het. Die snit is aanvanklik volledig vanuit ’n manlike perspektief geskryf, maar Bernice
het later ’n vroulike perspektief tot die lirieke bygevoeg.

Veral in die koor sorg dié twee perspektiewe vir ’n treffende wisselwerking, waarin dieselfde
ontmoeting van beide kante beleef word. Dit verander die liedjie van ’n enkele vertelling in ’n flirterige gesprek tussen twee mense wat dieselfde aantrekkingskrag ervaar.

Die enkelsnit word deur ’n nostalgiese musiekvideo vergesel wat die begin van Winter Hotel se liefdesverhaal verder uitbeeld. Die video begin met Kyle wat in ’n ou Mercedes op ’n grondpad ry en sodoende onmiddellik ’n retro, sewentigerjare-atmosfeer skep. 

Hy tel Bernice, wat langs die pad duimgooi, op en later sluit Kirsten ook by hulle aan vir ’n spontane padreis. Namate die reis ontvou, word die eerste tekens van aantrekkingskrag tussen Bernice en Kirsten sigbaar. 

Hulle sing die flirterige lirieke vir mekaar en wissel betekenisvolle kyke uit, maar behou steeds die skaamheid en effense ongemak van twee mense wat pas begin besef dat daar iets tussen hulle broei.

Die video se eenvoudige landskap, grondpad en klassieke motor word aangevul deur ’n
besonder sterk kleurpalet. Koningsblou en helder rooi speel dié keer die hoofrolle, terwyl tikkies
geel ’n visuele skakel met “Heuning” behou.

“Wanneer jy aanvanklik verlief raak, voel alles intens, helder en amper reg in jou gesig,” verduidelik die groep. “Die sterker kleure pas vir ons perfek by daardie gevoel van nuwe liefde.” Die uitrustings volg dieselfde visuele rigting. 

Pleks van die voorspelbare bruin en roomskakerings wat gewoonlik met koffie verbind word, het Winter Hotel gekies om met helder, uitgesproke kleure te eksperimenteer. Dit vorm ’n opvallende kontras met die mosterdgeel, warm en gedempte voorkoms van “Heuning”, sonder om die groep se kenmerkende retro-identiteit prys te gee.

Met “Koffiewinkel” brei Winter Hotel verder uit op die romantiese wêreld wat hulle met hul
debuut begin skep het. Elke lied vorm ’n nuwe hoofstuk waarin luisteraars hulself kan herken
en wat hopelik deel van hul eie liefdesverhale sal word.

Volg Winter Hotel
Instagram : Kliek Hier
YouTube : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
#Artist#Musician#National News