The Go-To Guy
The Gazette · North West News
← Back to The Gazette
National News

Bok van Blerk vier die onbreekbare gees van Suid-Afrikaners metnuwe enkelsnit

By Charlene Bekker18 Jul 2026👁️ 28 views
Bok van Blerk, die bekroonde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer agter ikoniese treffers soos “De La Rey”, “My Kreet” en “Ik Ben Een Afrikaander”, is terug met ’n kragtige nuwe enk

Bok van Blerk, die bekroonde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer agter ikoniese treffers soos “De La Rey”, “My Kreet” en “Ik Ben Een Afrikaander”, is terug met ’n kragtige nuwe enkelsnit wat moed, deursettingsvermoë en samehorigheid vier. “Hart Van ’n Leeu” is ’n energieke liedjie wat luisteraars inspireer om elke uitdaging met vasberadenheid aan te pak.


Foto : Coleske Groep

FOTOKREDIET: Hendri Fourie


Dié liedjie, wat Bok saam met die bekende liedjieskrywer Johan Vorster geskryf het, het sy oorsprong in ’n eenvoudige, maar kragtige vraag: Wat sou ’n rugbyafrigter vir sy bulletjierugbyspan sê om hulle net vóór die wedstryd te motiveer? “Ons het dit natuurlik so geskryf dat dit op enigiemand van toepassing is – van bulletjierugby tot netbal, hokkie of selfs ’n MMA-vegter soos Dricus du Plessis.


Maar dit gaan ook oor enige gewone mens wat sy beste wil gee. Dit gaan oor daardie gees en die gevoel wanneer duisende mense saam in ’n stadion sit en uit volle bors sing,” vertel Bok.


Daardie stadion-atmosfeer was ook ’n belangrike deel van die opnameproses. “Ons het ’n groot groep mense bymekaar gekry om saam op die liedjie te sing. Dit het daardie massiewe stadion-effek geskep wat die energie van die liedjie perfek vasvang,” sê hy. Die musiekvideo dra dieselfde emosionele boodskap en is op die stel van die musiekblyspel Ons Vir Jou verfilm, waarin Bok onlangs ’n hoofrol vertolk het tydens dié produksie by die AfriForum Teater.


Vir Bok is die video egter baie meer as net ’n visuele uitbeelding van die liedjie – dit vertel ook ’n persoonlike familieverhaal. “In die tyd toe ons die liedjie geskryf en opgeneem het, het ek lank in Pretoria by my ma gebly. Ek het een dag in die motorhuis rondgekrap en op ou foto’s van my pa en oupa afgekom.”


Hy vertel hoe dié foto’s hom diep geraak het. “Ek het foto’s gekry van my pa toe hy vir die eerste span van Affies in die Administrateursbeker-finaal gespeel het. Toe kry ek ook ’n foto van my oupa wat vir die Vrystaat rugby gespeel het. Daardie herinneringe, saam met die sporttema van die liedjie, het my laat besluit om dit deel van die musiekvideo te maak.”


Nóg ’n spesiale toevoeging tot die video is Bok se negejarige seun, Samuel, wat ook sy liefde vir rugby uitleef. “Samuel speel nou self rugby en hy is mal oor die sport. Dit het net reg gevoel om hom ook deel van hierdie storie te maak.”


Met sy opbouende lirieke, stadionkoor en opwindende produksie is “Hart Van ’n Leeu” volgens Bok ’n liedjie wat mense sommer regop laat sit. “Dis ’n lekker liedjie met baie gees en energie. Mense wat dit al gehoor het, sê dit gee vir hulle daardie gevoel van: ‘Sit my op, coach – ek is reg!’”


Meer as net ’n sportliedjie, is “Hart Van ’n Leeu” ’n viering van die Suid-Afrikaanse gees – die vermoë om saam te staan, nooit moed op te gee nie en altyd aan te hou veg. “Ons mense het ’n ongelooflike wenkultuur. Ons gee nie op nie, ons hou moed en ons staan saam. Dit is die tema wat Johan en ek met hierdie lied wou vasvang.”


Met sy kenmerkende kragtige stem, inspirerende boodskap en aansteeklike energie, beloof “Hart Van ’n Leeu” om nie net op sportvelde nie, maar ook in die harte van Suid-Afrikaners ’n blywende indruk te maak.Bok van Blerk - Hart Van ’n Leeu (Amptelike Musiekvideo)

Volg Bok van BlerkFacebook : Kliek HierInstagram :Kliek HierYouTube :Kliek Hier TikTok :Kliek Hier