Aardklop
Momentum Aardklop se aanbod van visuele kuns bied iets vir almal
Beeld (Facebook) : Aardklop Nasionale Kunstefees
Soos elke jaar, skep Momentum Aardklop weer talle ruimtes vir visuele kuns. Vanjaar se feeskurator, Sheryl Msomi, is ook die nuut aangestelde kurator van die NWU Kunsgalery. Sy is ’n boorling van KwaZulu-Natal en het breedvoerige ervaring in die kunswêreld.
Vanjaar se oorkoepelende tema is Cornerstone/Hoeksteen. Dié tema verenig verskeie kunstenaars, ateljees en groepe van oor Suid-Afrika heen wat op tradisionele praktyke as stelsels van leer en uitdrukking fokus. Konseptueel is die kernkonsep van die tema dié van ’n hoeksteen, die eerste steen wat gelê word in klipbouwerk, as teken of simbool van ’n begin en ’n vaste fondament.
Met Cornerstone/Hoeksteen word die NWU se Potchefstroomkampus en die terrein van The Roots in gewyde ruimtes omskep, waarin daar mildelik met tradisie geëksperimenteer word. Dit is ’n uitnodiging aan die kyker om te beleef hoe ’n plaaslike visuele taal aansluit by die wyer, globale gesprekke.
’n Diverse kuns-spyskaart
Benewens werksessies saam met die publiek, is daar vanjaar sewe uitstallings by die fees.
A Legacy of Leadership in Printmaking is ’n viering van Artist Proof Studio (APS) se 35 jaar in die kunste. In dié drie en ’n half dekades het die ateljee talle kunstenaars gekoester, toegang tot kunsopleiding gefasiliteer en Suid-Afrika se drukkuns-landskap help vorm.
Dié uitstalling plaas drukkuns voorop as ’n toeganklike, samehorige kunsvorm waarin idees, geskiedenisse en ervarings tussen mense en plekke oorgedra kan word. ’n Debuutwerk by vanjaar se fees is This Is Where I Post From deur Cassian Robbertze.
Dié installasiekuns bestaan uit vier lewensgroot, gespierde mensagtige figure in ’n byna donker vertrek. Hul onklaar, generiese koppe lyk soos dié van mannekyne of van digitale karakters wat nog op ’n identiteit wag. Elke figuur hou iets in die hand wat soos ’n foonskerm in die donker flikker.
Die figure bestaan iewers tussen mens, avatar en masjien, en laat ’n mens nadink oor die inherente natuur van wie ons is. Take a Moment bring werke deur Diane Victor en Oliver Mayhew byeen.
Moderne Suid-Afrika voel toenemend soos ’n ongemaklike wagkamer – ’n toestand waarin die demokratiese belofte van vooruitgang huiwer. Dié uitstalling ondersoek die
gewig van hierdie uitgerekte tussentoestand.
Teen die agtergrond van ’n nasionale werkloosheidsyfer van meer as 32% en met meer as 45% van jong mense werkloos, konfronteer die kunstenaars ’n samelewing wat tussen ’n geskiedkundige afrekening en die kollektiewe spanning van ’n onbepaalde wagtyd vasgevang is.
Die uitstalling Holding Ground bring hulde aan die durende krag, lewenskragtigheid en standvastige teenwoordigheid van vroue. Dit verken die rol van vroue as die fondament waarop gesinne, gemeenskappe en generasies gebou is.
Die werke in die uitstalling is almal deur vroue, en nooi jou om die idees rondom mag en
hiërargie te heroorweeg. Op ’n soortgelyke trant, vier die uitstalling Women in Art vroue se teenwoordigheid in die kunswêreld en die perspektiewe wat hulle as skeppers, storievertellers en onderwerpe bring.
Die uitstalling is die werk van Thembi Mthembu en Thalente Khomo, albei van Durban en albei DUT-alumni. Saam skep hul beelde ’n dialoog tussen liggaam en herinnering, en vier hulle swart identiteit, bewaar persoonlike geskiedenisse, en nooi die kyker om te oorweeg hoe fotografie hierdie stories deur generasies heen kan dra.
Die groepuitstalling The Practice of Presence is ’n uitnodiging tot ’n langsamer pas. In ’n wêreld wat toenemend gedefinieer word deur spoed, afleiding en ’n konstante vloed van inligting, word die eenvoudige aksie van oplet al hoe skaarser.
Dié uitstalling bring verskeie kontemporêre Suid Afrikaanse kunstenaar byeen wie se diverse werk demonstreer dat teenwoordigheid nie net ’n terloopse toestand is nie, maar iets wat daadwerklik deur waarneming, herinnering en verbeelding gekweek moet word.
Vir 35 jaar al bring The Bag Factory jong kunstenaars en ateljees bymekaar. What’s in the Bag? is ’n groepuitstalling van talle kunstenaars wat oor die jare saam met hulle gewerk het – mense soos Gail Behrmann, Erla Haraldsdóttir, LL Editions, Kagiso Pat Mautloa, Richard Specs Ndimande, Levy Pooe, en Joe Turpin.
Hulle word vergesel van die werk van ontvangers van The Bag Factory se verskeie programme wat die werk van ontluikende kunstenaars ondersteun: Swaline Mkhonto and Zovuyo Pendu (Young Womxn Studio Bursary 2025-’26), Mosa Anita Kaiser en Leonardo Sitoe (Young/Unframed 2026), en Smiso Cele (Cassirer Welz Award 2025).
Werksessies – en iets vir die jongeres
Fybre Studios leer vanjaar oud en jonk by Momentum Aardklop oor tekstielmaak. Skep jou eie matjie of muurbehangsel van nuuts af. Jy het geen ervaring nodig nie – hulle sal jou leer.
Maar wees gewaarsku, dis ietwat verslawend. Voor jy jou kom kry, het ure verbygegaan en gaan jy huis toe met jou eie nuutgeskepte werk. Die NWU Galery se Kinderkunsprogram keer met Jong Oë, Waagmoedige Kuns / Young Eyes, Bold Art! op openbare aanvraag terug na Momentum Aardklop 2026.
Alle kinders tussen 6 en 15 jaar oud is welkom om tydens die fees ’n wêreld van verbeelding, kleur en kreatiwiteit te betree.
Kinders sal ’n verskeidenheid kunstegnieke verken, van skilder tot gemengde media, in ’n veilige en inspirerende omgewing onder leiding van die NWU Galery se personeel en fasiliteerders.
Die program word in Afrikaans, Engels en Setswana aangebied. Vind die besonderhede oor bogenoemde, asook die volledige feesprogram en besonderhede van die werksessies, op aardklop.co.za.

Momentum Aardklop
29 September – 4 Oktober
Webblad: aardklop.co.za
Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees
Instagram: @aardklopkunstefees
#SoosItHoort
Navrae: alexa@aardklop.co.za en cindy@aardklop.co.za
