The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
Aardklop

Wie skrik vir koue pampoen – of ’n bietjie reën? Nie Momentum Aardklop nie

By Charlene Bekker28 Sept 2026👁️ 244 views
Wie skrik vir koue pampoen – of ’n bietjie reën? Nie Momentum Aardklop nie
Momentum Aardklop is ’n Suid-Afrikaanse kunstefees, in Afrikaans.
Die fees is hier, en daarmee saam ook sommer die eerste somerreën. So sê die weervoorspelling vir dele van Dinsdag en Woensdag in elk geval. Maar ons Suid- Afrikaners skrik mos nie vir ’n bietjie water wat uit die lug uit val nie. Daarom herinner Momentum Aardklop jou graag daaraan dat daar nog hope te doen is by vanjaar se fees, al reën dit dalk.

Natuurlik gebeur die meeste produksies binnenshuis, van musiek en drama tot komedie en kinderteater. Beleef die volle spektrum van die kunste in Suid-Afrika – terwyl jy droog bly!

Selfs die terreinverhoog met sy onderdakgedeelte bied beskutting teen die reënweer. Snare en Stories – waar gesprekke met van vanjaar se feeskunstenaars daagliks plaasvind – is ook onderdak, en meeste van die stalletjies het voorsorg getref vir moontlike reënweer.

Gaan drentel gerus ook deur een van die talle visuele kunsuitstallings. Cornerstone/Hoeksteen is die oorkoepelende tema van die visuele kuns van Aardklop 2026. Met dié tema in gedagte word kuns en uitstallings teruggebring na die grondbeginsels van die visuele kunste. Dit is ’n samekoms van kunstenaars, ateljees en groepe van oor Suid-Afrika heen wat fokus op tradisionele praktyke as stelsels van leer en uitdrukking.

Vir die jonges onder ons is daar weer vanjaar Jong oë, Waagmoedige Kuns! / Young Eyes, Bold Art! Vir twee uur lank word hulle klein kunstenaars in eie reg. Die Kinderkunsprogram bied ’n praktiese, fisieke ervaring wat daarop gemik is om die verbeelding aan te wakker en jong talent te koester. Kinders sal ’n verskeidenheid kunstegnieke verken, van skilder tot gemengde media, in ’n veilige en inspirerende omgewing onder leiding van die NWU Galery se personeel en fasiliteerders.

Of bring die kleingoed en kom luister elke dag na ’n voorlesing uit van ons lekkerste LAPA-kinderboeke, deur een van jou gunsteling-Aardklopsterre. Elke dag op dieselfde plek en op dieselfde tyd, maar verskillende boeke en verskillende bekendes. Bring die hele gesin, want ons stories is fantasties lekker! Julle kan uitsien na:

29 September Margit Meyer-Rödenbeck Pampoenpit en die geheime helde
30 September Cindy Swanepoel Christelientjie, die sonskynfeetjie van die Grootrivier
1 Oktober Dean John Smith Springboekie
2 Oktober Heinrich Wentzel Silas en die ysbeer op Tafelberg
3 Oktober Mienke Ehlers Jakkals en Wolf Bundel 1

So, as die weervoorspellers reg is, en dit Dinsdag of Woensdag reën, gryp jou
sambreel of vind weer jou reënjas en -stewels, en sluit by ons aan vir ’n vurige
fees. Soos altyd is al die programbesonderhede te kry aardklop.co.za.

Momentum Aardklop
29 September – 4 Oktober

Webblad: aardklop.co.za
Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees
Instagram: @aardklopkunstefees
X: @AardklopFees
Navrae: alexa@aardklop.co.za en cindy@aardklop.co.za
#Artist#Musician#National News#Aardklop