The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
Aardklop

Seun – ’n Spieëlbeeld van emosie, identiteit en die reis na manskap

By Micayla Jardim02 Oct 2026👁️ 20 views
Seun – ’n Spieëlbeeld van emosie, identiteit en die reis na manskap
Onder die meesterlike regie, stel- en beligtingsontwerp van Nico Scheepers, word die gehoor ingetrek in 'n verhaal wat die vraag stel: Hoe word 'n seun 'n man?
Wanneer ’n mens 'n teatervertoning verlaat en dit voel asof die storie steeds in die lug rondom jou hang, weet jy jy het pas iets besonders beleef. Die bekroonde drama Seun (gebaseer op die boek van Dana Snyman, met teks deur Johann Smith en vertolk deur Wilhelm van der Walt) is veel meer as net uitstekende teater, dit is 'n rou en diep-menslike ervaring.

Onder die meesterlike regie, stel- en beligtingsontwerp van Nico Scheepers, word die gehoor ingetrek in 'n verhaal wat die vraag stel: Hoe word 'n seun 'n man?

Beligting as 'n spieël van die siel

Wat my dadelik opgeval het buiten die briljante spel, was die intieme en praktiese gebruik van die verhoogbeligting. Die ligte het nie net die verhoog verlig nie; dit het saam met die storielyn beweeg en meegespeel. Dit was as’t ware ’n visuele spieëlbeeld van die karakter se binneste emosies – dit het sy innerlike worstelinge, isolasie en twyfel vir die gehoor tasbaar en sigbaar gemaak.

Van kind tot dienspligtige

Die rol is omvattend en dek 'n hele lewensreis – van sy kinderdae tot die ingewikkelde proses om as man "weergebore" te word. Ons sien die druk van 'n pa se verwagtinge: die idee dat sy diensplig in die Weermag hom uiteindelik 'n "man" sou maak, want niks anders kon dit blykbaar doen nie.

Maar die werklikheid van die 1980's, 'n moeilike en gevaarlike tydperk van omwenteling, het nie uitgedraai soos wat sy pa gehoop het of soos hy self verwag het nie. 

Wat volg, is 'n diep innerlike worsteling met homself, sy emosies en sy soeke na 'n ware plek in die samelewing.

Simboliek en humor
'n Besondere tema wat deur die stuk weef, is die fasinasie met Jona in die vis, 'n Bybelse motief wat simbolies werklik in sy eie lewe afspeel terwyl hy vasgevang voel in sy eie omstandighede en donkerte. Wat die stuk egter so gebalanseerd maak, is die fyn, goed versteekte humor wat deur die rouheid vleg en net op die regte oomblikke verligting bring.
Seun is 'n kragtige, eerlike en selfopenbarende meesterstuk. Dit wys jou nie net 'n storie nie; dit laat jou voel.


Produksie-inligting:

 Met: Wilhelm van der Walt
 Teks: Johann Smith (gegrond op die boek van Dana Snyman)
 Regie, stel- en beligtingsontwerp: Nico Scheepers
 Musiekregie & Komponis: Kate Borthwick
 Vervaardiger: Leftfoot Theatre Productions en Innibos


#potchefstroom