The Go-To Guy
The Gazette · North West News
👤 My Account
← Back to The Gazette
Aardklop

Dis feestyd! Kom ons vier dit met ’n laaste Kersie-op-die-koek-afslag

By Charlene Bekker28 Sept 2026👁️ 212 views
Dis feestyd! Kom ons vier dit met ’n laaste Kersie-op-die-koek-afslag
Dis die Kersie op die Koek Promosie!!!
Tyd. Almal dink hulle het so baie daarvan, tot jy op ’n dag wakker skrik en besef ’n dekade is in ’n oogwink verby. Op ’n minder dramatiese noot: Momentum Aardklop begin op 29 September – dis Dinsdag! – in Potchefstroom. 

As jy nog nie eens begin kaartjies koop het nie, moet jy wikkel. As aanmoediging
gee Aardklop vir ’n kort tydjie ’n heerlike 30%-afslag op uitgesoekte kaartjies. Hulle noem dit die Kersie-op-die-koek-aanbod – ’n sommer-net-bederfie voor die feestelike verrigtinge.

Kry jou afslag só
Om dié afslag te kry (sien onder vir die produksies waarvoor dit geld), gaan na SeatMe.co.za, kies die produksies waarvoor die promosie geld, en wanneer jy betaal, voeg jy die kode SOET26 in (let wel, die “o” in “SOET” is inderdaad ’n hoofletter-o, en nie die syfer nul nie).

Die promosiekode SOET26 is slegs geldig vir aanlyn verkope van die betrokke produksies in die 'Kersie op die Koek'-promosie. Let wel: Vir die meerderheid produksies sluit aanlyn verkope streng twee ure voor die aanvangstyd van die vertoning, waarna kaartjies slegs teen die volle deurprys by die onderskeie lokale beskikbaar sal wees. In uitsonderlike gevalle waar aanlyn verkope nie vooraf sluit nie, sal die promosiekode steeds slegs vir aanlyn-aankope geldig wees en nie by die lokale aanvaar word nie.

Baie belangrik: Jy kan net tussen Dinsdagoggend 29 September (die eerste dag van die fees) om 06:00 en Woensdagaand 30 September om 20:00 van hierdie spesiale aanbod gebruik maak.

Die produksies waarvoor die afslag geld, is:
Liefde, Lafras: Lafras (Gerben Kamper) sterf, maar verlaat nooit die huis nie. Nou sukkel Gertie (Antoinette Kellermann) om haar lewe met haar man se spooklewe te versoen. Elke gesin het sy spoke, maar hierdie een kan ongelukkig nie bly nie. Namate hulle ’n tweede wittebrood in hul huwelik beleef, verloor Lafras stadigaan sy krag en teenwoordigheid en bevraagteken alles – van God tot liefde en die sin van die lewe. Regie en stelontwerp: Wolf Britz. (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

Belofte van vere: Terug op openbare aanvraag bring Momentum Aardklop vir die laaste speelvak hulde aan die geliefde Breyten Breytenbach – moet dit nie misloop nie. Met Rolanda Marais en Eben Genis (stemkuns), Ilse Klink (sang), Concord Nkabinde (baskitaar), David Klassen (tromme), Leon Gropp (kitaar en sang) en Laurinda Hofmeyr (klawers en sang). (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

‘KUNS’: Die vriendskap van drie jare lange vriende word tot die uiterste beproef wanneer een ’n groot, duur skildery koop. Die produksie, onder regie van Marthinus Basson en gegrond op die Franse dramaturg Yasmina Reza se veelbekroonde ‘Art’, het in 2025 vyf Kanna-pryse ontvang, onder meer vir beste toneelaanbieding en beste ensemble, asook ’n Woordtrofee vir beste ensemble. Met: Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt. (Volprys: R200.
Afslagprys: R140)

Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene: ’n Jong verliefde paartjie navigeer ’n wêreld waar net 140 woorde per dag gebruik mag word, waar stilte en konflik hul verhouding toets, tot hulle moet vra of daar werklik nog iets oor is om vir mekaar te sê. Met Mienke Ehlers en Dean John Smith. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)

CRYBABY: ’n Absurde tragikomedie wat handel oor die tol wat dit eis om te lewe in ’n geldgierige wêreld waar alles in duie stort. Met Frank Opperman, Nicole Holm, René Cloete, Gantane Kusch en Wian Taljaard. Teks en regie deur Carla Smith. (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

Gebou soos Steffi Graff: Ná al die vreesaanjaende berigte en vals nuus oor Wilgenhof (die oudste manskoshuis in Stellenbosch) probeer Chris Vorster angs en trauma uit sý jare in dié “konsentrasiekamp” onthou, maar ál wat sy geheue kon baasraak, was flitse van vriendskap en fantastiese partytjies. Teks deur Chris en Liza Vorster. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)

Boesman en Lena: Nadat dié produksie weens onvoorsiene omstandighede verlede jaar nie by Aardklop gedebuteer het nie, kan gehore in die noorde nou na uitsien na Athol Fugard se ikoniese stuk, in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim. Dit is ’n boeiende blik op die verwikkeldheid van verhoudings en sosiale ongeregtigheid. Met Veronique Jephtas, Brendon Daniels en Tshamano Sebe. Regie deur Christo Davids. (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

Pad na Soekmekaar: In ’n weggesteekte hoekie, in die plaaslike kroeg êrens aan die Wes-Rand, met toemaaktyd om die draai, ontmoet ons ’n doodgewone 68- jarige ou in die herfs van sy jare, op soek na kameraadskap en konneksie. Luister in terwyl die voormalige motorverkoopsman Derrick de Witt ’n ongesiene vreemdeling trakteer op verhale wat soms wye draaie loop. Met André Odendaal. Teks en regie deur Paul Slabolepszy. (Volprys: R180. Afslagprys: R126)

Vlindervry: Daan Bekker (Heinrich Wentzel) is ’n blinde 19-jarige wat pas Kaapstad toe getrek het, deels om ’n sangloopbaan na te streef, maar hoofsaaklik om hom onder sy beheervraat van ’n ma (Cindy Swanepoel) se vlerk uit los te woel. Sy nuwe buurvrou is die vrygeestige Griet (Jeanne-Marié Koekemoer), en kort voor lank is hulle smoorverlief. Ook met Geon Nel. (Volprys: R250. Afslagprys: R175)

Jubilate Deo: Hierdie koor-en-orkeswerk gee lewe aan Psalm 100 deur ’n verskeidenheid tale en kulture – van Latyn en Hebreeus tot Zoeloe en Mandaryns. Met NWU Orkes en kore. Komposisie en verwerking deur Dan Forrest. (Volprys: R180. Afslagprys: R126)

Ommitafel: ’n Intieme reis waar stories oopgevou word soos ’n ou tafeldoek vol onthou. Hierdie dubbel-Kanna-benoemde vertoning het die vermoë om emosies los te torring, onthou uit te rafel en die lewe vir ’n oomblik oop te trek. Met Steffie le Roux en Mariette Galjaard. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)

HÄNDEL EN DIE DONKIE: Van jazz tot pop tot die barokklanke van Georg Friedrich Händel, Nataniël bring sy wye musikale repertoire, aangebied met ’n nuwe versameling verhale. Hy deel die verhoog met Steinway-pianis Charl du Plessis, asook Leonie Greyling (viool), Daline Mitchley (viool), Kate White (viola) en Kerryn Wisniewski (tjello). (Volprys: R280. Afslagprys: R196)

Romantic Jazz for Violin and Piano: ’n Meesleurende program van tydlose romantiese jazzmelodieë uit die goue era, aangebied in ’n klassieke vioolstyl en vermeng met jazz improvisasie op die klavier vir sielvolle, nostalgiese bekoring. Prof. Piet Koornhof (viool) is bekend vir sy liriese interpretasies en innoverende programmering. Emeritus professor Nicol Viljoen (UFS) se innoverende verwerkings en verstommende improvisasies bied die ideale grondslag vir hierdie romantiese ervaring. (Volprys: R210. Afslagprys: R147)

The Scullery Quintet: Seasoned to Taste!: Die bekroonde kwintet keer terug met ’n splinternuwe program. Hulle is bekend vir innoverende verwerkings en treffende optredes waarin klassieke meesterstukke met vars interpretasies aangepak word. Die program sluit ’n verskeidenheid volksliedjies in – van die Balkan, Pole, Amerika en Suid-Afrika – en ook werke van o.a. Rodrigo, Corelli, Beethoven, Art Blakey, Brahms en Bheki Mseleku. Met: Hana Yim-Wahl, Waldo Alexander, Tiisetso Mashishi, Viwe Mkizwana en Peter Auret, wat ook die musiekregie en -verwerking behartig het. (Volprys: R170. Afslagprys: R119)

Mozart to Verdi: Two Faces of Opera: Sprankel en hartseer is in stryd met mekaar op die verhoog wanneer die NWU Opera Ensemble kragte saamsnoer met die Nürnberg Hochschule für Musik se kamerorkes in ’n kragtige konsertweergawe van opera se mees elektriese oomblikke. (Volprys: R180. Afslagprys: R126)

Geniet ook 30%-afslag op ’n dagkaartjie vir die feesterrein. As jy tydens die promosietydperk hierbo genoem jou dagkaartjie vir Dinsdag 29 September koop, betaal jy net R56 in stede van die gewone R80. Dis mos nou luuks!

Spesiaal vir die kleingoed
Twit maak maats op Robbeneiland: Wanneer Twit se ruimtetuig herstelwerk moet ondergaan, besluit hy om Robbeneiland vir die dag te verken. Met Melandi Swiegelaar, Luan Maartens en Chrizaan Raath. (Volprys: R100, R50 vir kinders onder 10. Afslagprys: R70 en R30 vir kinders onder 10)

Twit verdwaal in die Kangogrotte: Wanneer die ruimteverkenner Twit by die Kangogrotte aankom, is hy oortuig dat hy niemand se hulp nodig het nie – veral nie dié van die toergids Bekkie nie. Maar wanneer hy alleen die grotte invaar, verdwaal hy hopeloos . . . Met Melandi Swiegelaar, Luan Maartens en Chrizaan Raath. (Volprys: R100, R50 vir kinders onder 10. Afslagprys: R70 en R30 vir kinders onder 10)

Twit se trippie in die Knysnabos: Die avontuurlustige ruimteverkenner Twit arriveer in die Knysnabos met een doel voor oë – om die legendariese Grootvoet op te spoor. Saam met Skorrie Hardebaard en Babbie, ’n slim apie wat die bos beskerm, vertrek hy op ’n gevaarlike tog deur die woud. Met Melandi Swiegelaar, Luan Maartens en Chrizaan Raath. (Volprys: R100, R50 vir kinders onder 10. Afslagprys: R70 en R30 vir kinders onder 10)

*Let wel, hierdie afslag is slegs van toepassing op die volle kaartjieprys.
Hartsvriende en pensioentrekkers betaal reeds minder vir kaartjies vir sommige
van hierdie produksies, en kom daarom nie noodwendig vir hierdie afslag in
aanmerking nie. 

Momentum Aardklop
29 September – 4 Oktober

Webblad: aardklop.co.za
Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees
Instagram: @aardklopkunstefees
X: @AardklopFees
Navrae: alexa@aardklop.co.za en cindy@aardklop.co.za
#Artist#Musician#National News#Aardklop